Labels

Wednesday 28 November 2012

Koeke vir klein prinsessies.

Vir my tweede verjaardag het ek 'n popkoek gekry. Ek kan nie die koek self onthou nie, maar daar het 'n foto in ons huis se gang gehang waar ek met 'n yslike glimlag agter die koek staan. Daarom sien ek altyd uit om vir iemand anders so iets te maak. 'n Koek wat die ma en die kind ewe opgewonde maak. Maar veral 'n koek wat, tenspyte dat dit mooi of interessant lyk, baie lekker proe.

Ek het onlangs kans gekry om vir klein Elisabeth van der Berg 'n "skoenlapperprinses-koek" te maak.
Vir die koek het ek 'n nuwe tegniek probeer deur die frilletjies van die prinses se rok met botterversiersel te maak. Ek gebruik botterversiersel eerder as petinice (plastiese versiersel) omdat dit baie lekkerder proe en 'n sagte tekstuur het.





Die skoenlappers en blommetjies is 'n dag voor die tyd gemaak sodat dit genoeg tyd gehad het om hard te word.

Friday 16 November 2012

Cupcake-liefde

Die beskeie klein cupcake is nie meer die vervelige, eenvoudige koekie (kolwyntjies) van die verlede nie. Deesdae kan jy 'n cupcake so ver vat as wat jou verbeelding kan gaan. Hulle kan klein monsters wees, skapies met baie wol, paddastoele of net vol kleur. Die geleentheid bepaal die cupcake.

Ek is mal oor cupcakes.
Die keer het ek hartjies uitgesny aan die bo-kant en dan opgevul met botterversiersel. Jy kan natuurlik enige vorm probeer. Hang net af of jy na 'n vierkant, sirkel of hartjie voel ;-)




Sunday 11 November 2012

Die een wat amper weggekom het...

Behalwe dat die 'n gerehabiliteerde koekie is (sy was 'n glippertjie wat amper grond toe was) was dit pret om hier 'n nuwe metode uit te toets.
Die kuns was om verskillende lae valletjies reg rondom die koek te bou. Die geheim was om die valletjies nie te dun te maak nie, want dan hou dit nie die gekronkelde vorm nie.
Al die versiering op die koek was met versiersuiker gemaak.


Troukoektruuks #1

Blomversierings verg redelik baie tegniek. En geduld. Twee goeie redes waarom nie almal daarvoor kans sien of dit kan doen nie en soms eerder vars (regte) blomme op koeke rangskik.
As jy wel die truuks bemeester het, maak dit baie meer sin om blomme te maak. Jy kan dit lank voor die tyd maak (selfs weke). En dan is dit maklik om die blomme op die koek aan te bring. Makliker as vars blomme wat meer as een keer gewas moet word (vir die moontlikheid van gif of goggatjies), die stele wat bedek moet word en ook die kans het om gou te verlep.
Blomme kan uit sjokalade of met plastiese versiersuiker gemaak word. Dis elkeen se eie keuse, maar tyd is baie keer die bepalende faktor. Sjokalade kan oornag staan (of tydens Grey's Anatomy) sonder dat dit hard word en breek. So jy kan later weer daaraan werk. Versiersuiker word egter vinnig hard.

Hierdie is 'n paar voorbeelde van wat ek 'n ruk gelede in 'n FBI troukoek-kursus gemaak het.

Varkore gemaak van sjokalade.
Daisies en angeliere van sjokalade.
Daisies van sjokalade.
Die oranje rose is van versiersuiker.
Die rose is weer van sjokalade.

Brush embroidery is 'n maklike manier om 'n koek netjies en afgerond te laat lyk. Dalk nie almal se smaak nie, maar ekself hou baie daarvan. Dit word van royal icing gemaak en word redelik vinnig hard.



Bridal veil is 'n baie duur versieringsmetode. Aan die anderkant is dit maklik om mee te werk aangesien dit 'n elastiese tekstuur het en nie maklik breek nie. Dit word eers na 'n dag hard.


Friday 9 November 2012

Troukoek - Anneke van der Linde


Vir vriendin Anneke se troudag op 6 Oktober'12 moes ek hierdie troukoek en cupcakes maak. Dit was hoe sy en haar man, De Wet, dit graag wou gehad het. Die troukoek en cupcakes moes inpas by hul tema van, Geloof, Hoop en Liefde.



Die cupcakes was 'n lekker happie saam met die koffie vir al die gaste aan die einde van die aand.