Labels

Wednesday 17 April 2013

Sjokolade sjokolade en nog 'n bietjie sjokolade


In 2011 het my kêrel vir vyftig dae deur die Noord-Kaap getoer met ‘n motorfiets vir sy Noord-Kaap Storie Trip. Prieska was een van die stopplekke. Nog voor hy die dorp bereik het, jaag twee motorfietse hom van agter in en trek hom af.
“Het jy al blyplek? Kom bly by ons.”

Dit was Kobus Etsebeth. Min het sy vrou, Alexis, geweet dat Willem vir drie dae by hulle gaan bly, maar tog vertel hy altyd dit het gelyk asof Alexis al lankal vir hom reggemaak het. En dit was een van die lekkerste kuiers op sy hele trip (lees hier oor die storie - Prieska-gees).

Twee jaar later kry ek ‘n e-pos met ‘n foto van ‘n koek. Die vrou vra vir my of ek so iets sal kan maak vir haar dogter se troue in Bloemfontein in April (2013). Ek het dadelik ja gesê en besluit dit gaan ‘n lekker projekkie wees, iets anders as die gewone wit troukoek.
Die oggend van die troue het Willem saam met my gery. Toe ons by die onthaalsaal kom het hy met familie gepraat en twee en twee bymekaar gesit. Dit was Alexis van Prieska se dogter wat trou. Hulle sê toe Alexis en Kobus is in die kerk besig om reg te maak. Toe Alexis Willem sien en groet kon ek dadelik sien hoekom hy altyd so goed van hulle praat.

Dat ‘n troukoek nou so mense bymekaar kan bring nê… ;-)
Die koek het uit drie lae bestaan. Elke laag was sjokoladekoek met ‘n sjokolade ganache vulsel. Buite, om elke laag, het ek sjojolade botterversiersel gesit en ‘n totaal van 32 sjokolade rosies met die hand gemaak.
  


‘n Spesiale koek vir spesiale mense.


Friday 5 April 2013

Cupcakes vir ouma


My ouma was nog altyd in my oë ‘n vrou wat enigiets kon doen. Toe my oupa oorlede is, was sy vrou-alleen op ‘n plaas. Sy kon nie bestuur nie en het ook vinnig agtergekom dat my oupa die klein takies in die huis gedoen het. Maar dit het haar nie gestop nie.

In haar laat vyftigs het sy  leer bestuur en haar lisensie gekry. Sy het begin boor, spykers kap en alles begin doen wat ‘n man sou doen. Sy het my ook op ‘n jong ouderdom geleer om onafhaklik te wees, te boor sonder om die stof op die vloer te mors, spykertjies te kap en houtjies te plak.

Sy het altyd naaldwerk gedoen. Trourokke vir almal op Petrusburg gemaak (selfs my ma s’n). Sy het gehelp balletklere en aandrokke maak en elke gaaitjie in my nefies se klere “gepatch” of gestop. Van ‘n klein sitkamerstelletjie vir my en my poppe tot ‘n stofie vir my pophuis, my ouma kon alles doen.

Na ‘n harde val en skouerbreek twee jaar gelede het sy begin om dinge rustiger te vat. Maar dit het haar darem ook nie laat stilsit nie. Sy is nogsteeds hier en daar besig met ‘n handwerkprojek. Ek dink dit is waar ek en my ma die liefde vir handwerk gekry het, dit is in die gene.

Dit is nou al ‘n tradisie elke jaar om vir my ouma eetgoedjies vir haar verjaarsdag te maak. En elke jaar kry ek “raas” omdat ek nie so baie moeite moet doen nie. Maar wie wil nou nie hulle ouma bederf nie.

Hierdie jaar het sy 83 geword en ek het besluit om vir haar cupcakes te maak saam met haar ander happies. Die cupcakes het goedjies op wat my aan my ouma laat dink. Knopies vir al die rokke, trourokke, broekgaatjies wat gestop was en stelle klere wat sy gemaak het. Hartjies vir al die liefde nog oor die jare vir ons en baie minderbevooregde mense, die opofferings en die bederfies, die skoolvakansies, kuiers en drukkies. Die ander cupcakes het blomme en pêrels op, want al was my ouma besig om ‘n houtjie te boor, ‘n sitkamer stel oor te trek, ‘n seil vir haar kar te maak het sy altyd mooi en netjies gelyk en selde nie pêrel of klein, goue oorbelle ingehad nie.