My ouma was nog altyd in my
oë ‘n vrou wat enigiets kon doen. Toe my oupa oorlede is, was sy vrou-alleen op ‘n
plaas. Sy kon nie bestuur nie en het ook vinnig agtergekom dat my oupa die
klein takies in die huis gedoen het. Maar dit het haar nie gestop nie.
In haar laat vyftigs het sy
leer bestuur en haar lisensie gekry. Sy het begin boor, spykers kap en
alles begin doen wat ‘n man sou doen. Sy het my ook op ‘n jong ouderdom geleer
om onafhaklik te wees, te boor sonder om die stof op die vloer te mors, spykertjies
te kap en houtjies te plak.
Sy het altyd naaldwerk
gedoen. Trourokke vir almal op Petrusburg gemaak (selfs my ma s’n). Sy het
gehelp balletklere en aandrokke maak en elke gaaitjie in my nefies se klere “gepatch” of gestop. Van ‘n klein
sitkamerstelletjie vir my en my poppe tot ‘n stofie vir my pophuis, my ouma kon
alles doen.
Na ‘n harde val en skouerbreek
twee jaar gelede het sy begin om dinge rustiger te vat. Maar dit het haar darem
ook nie laat stilsit nie. Sy is nogsteeds hier en daar besig met ‘n
handwerkprojek. Ek dink dit is waar ek en my ma die liefde vir handwerk gekry
het, dit is in die gene.
Dit is nou al ‘n tradisie
elke jaar om vir my ouma eetgoedjies vir haar verjaarsdag te maak. En elke jaar
kry ek “raas” omdat ek nie so baie moeite moet doen nie. Maar wie wil nou nie
hulle ouma bederf nie.
Hierdie jaar het sy 83
geword en ek het besluit om vir haar cupcakes
te maak saam met haar ander happies. Die cupcakes
het goedjies op wat my aan my ouma laat dink. Knopies vir al die rokke,
trourokke, broekgaatjies wat gestop was en stelle klere wat sy gemaak het.
Hartjies vir al die liefde nog oor die jare vir ons en baie minderbevooregde
mense, die opofferings en die bederfies, die skoolvakansies, kuiers en
drukkies. Die ander cupcakes het
blomme en pêrels op, want al was my ouma besig om ‘n houtjie te boor, ‘n
sitkamer stel oor te trek, ‘n seil vir haar kar te maak het sy altyd mooi en
netjies gelyk en selde nie pêrel of klein, goue oorbelle ingehad nie.
No comments:
Post a Comment