Labels

Wednesday 17 April 2013

Sjokolade sjokolade en nog 'n bietjie sjokolade


In 2011 het my kêrel vir vyftig dae deur die Noord-Kaap getoer met ‘n motorfiets vir sy Noord-Kaap Storie Trip. Prieska was een van die stopplekke. Nog voor hy die dorp bereik het, jaag twee motorfietse hom van agter in en trek hom af.
“Het jy al blyplek? Kom bly by ons.”

Dit was Kobus Etsebeth. Min het sy vrou, Alexis, geweet dat Willem vir drie dae by hulle gaan bly, maar tog vertel hy altyd dit het gelyk asof Alexis al lankal vir hom reggemaak het. En dit was een van die lekkerste kuiers op sy hele trip (lees hier oor die storie - Prieska-gees).

Twee jaar later kry ek ‘n e-pos met ‘n foto van ‘n koek. Die vrou vra vir my of ek so iets sal kan maak vir haar dogter se troue in Bloemfontein in April (2013). Ek het dadelik ja gesê en besluit dit gaan ‘n lekker projekkie wees, iets anders as die gewone wit troukoek.
Die oggend van die troue het Willem saam met my gery. Toe ons by die onthaalsaal kom het hy met familie gepraat en twee en twee bymekaar gesit. Dit was Alexis van Prieska se dogter wat trou. Hulle sê toe Alexis en Kobus is in die kerk besig om reg te maak. Toe Alexis Willem sien en groet kon ek dadelik sien hoekom hy altyd so goed van hulle praat.

Dat ‘n troukoek nou so mense bymekaar kan bring nê… ;-)
Die koek het uit drie lae bestaan. Elke laag was sjokoladekoek met ‘n sjokolade ganache vulsel. Buite, om elke laag, het ek sjojolade botterversiersel gesit en ‘n totaal van 32 sjokolade rosies met die hand gemaak.
  


‘n Spesiale koek vir spesiale mense.


No comments:

Post a Comment