Labels

Tuesday 26 November 2013

Nie vir sensitiewe kykers nie

So elke nou en dan kry ek 'n versoek wat so bietjie anders is.
Hierdie koek was definitief baie anders as wat ek al voorheen gedoen het en tog was dit een van my lekkerste projeke nog.

Christopher is 'n 8-jarige wat mal is oor diere en veral haaie. Sy ma het my vertel hy kan vir ure na programme met haaie kyk, maar sodra die haai iets vang, kyk hy anderkant toe. Hy hou nie van die bloed nie.
Christopher het nogsteeds gevra dat die haai op sy koek iets stukkend moet byt. Ek het besluit om die bloed weg te laat en elke gas wat die koek sien te dwing om sy verbeelding te gebruik.
Is die mannetjie wat op die bootjie was in die water of in die haai se maag...

Die koek was vanillakoek gewees en die effek van water het ek met botterversiersel geskep. Die haai het ek van rice crispy-koekies gemaak en met plastieseversiersel bedek. Die boot was ook met plastieseversiersel gemaak.



 

Gatsby

Ek dink dit is teen die tyd al baie duidelik dat ek mal oor 'n cupcake is.

Dit is net die perfekte klein koekie wat mens enigiets mee kan doen. Die enigste ding wat jou keer is jou verbeelding.

Ek was onlangs gevra om rooifluweel-cupcakes te maak vir 'n kombuistee met 'n Gatsby-tema en die cupcakes moes swart en wit wees. Ek het besluit om drie verskillende soorte cupcakes te maak wat by die tema sal pas.

Lollos

Ek is mal daaroor om kleurvolle koeke te maak met verskillende teksture.

En dit was bitter lekker gewees om die koek te maak. Die opdrag was baie eenvoudig; ek moet 'n Lollos-koek maak vir Luan se 2de verjaarsdag, dit maak nie saak wat ek doen nie.

Lollos en sy meisie, Lettie, is van plastieseversiersel gemaak. Die koek self is 'n vanillakoek gewees en die res van die koek het ek met botterversiersel versier.

Wednesday 30 October 2013

Wortel eenvoudigheid

Daar is min dinge so mooi soos eenvoudigheid. Soos die koek. Die bruid het vir my gesê hulle soek 'n baie eenvoudige en plein koek, hulle wil graag hê dit moet sag en romanties wees en by die tema van hulle troue pas... liefde. Dit was ook baie belangrik dat die koek self hulle gunsteling moet wees, 'n lekker klam wortelkoek gevul met roomkaasversiersel.



 

Thursday 10 October 2013

Betty Boop 80 jaar later

Ek het onlangs 'n versoek gekry om 'n verjaardagkoek te bak met Betty Boop as tema. Dit was nogals vir my 'n heel interessante tema om te kies. Betty Boop self is nie meer te jonk nie...

Betty Boop is 'n animasiekarakter uit die 1930's. 'n Baie sexy animasiekarakter. 

Hier is hoe die koek uitgekom het.
Die boonste laag was sjokoladekoek met donker sjokalade ganache en die onderste laag was sjokoladekoek met roomkaasversiersel.




Cupcakes gee hoop

Cupcakes of HOPE is 'n nie-winsgewende organisasie wat bewustheid probeer skep en fondse insamel vir kinders met kanker. Dit word gedoen deur cupcakes te bak.

September is Kankermaand en dan nooi Cupcakes of HOPE die Suid-Afrikaanse gemeenskap om cupcakes te bak, of te koop, en te skenk. Dosyne by dosyne cupcakes word so ingesamel en dan weer uitgedeel wanneer mense donasies aan die organisasie gee.

In 2011 het Cupcakes of HOPE 'n wêreldrekord opgestel toe hulle die meeste cupcakes ooit bymekaar kon kry, 21 000 cupcakes.

Die jaar is meer as 'n R1miljoen op een dag ingesamel deur die organisasie. Dit als deur liefde en cupcakes te deel.

Dit was vir my 'n wonderlike geleentheid om die jaar ook aan hierdie fondsinsameling deel te neem. Hierdie cupcakes was deel van my bydrae.

Vir meer oor Cupcakes of HOPE gaan loer na hulle webtuiste hier.











Monday 26 August 2013

Sag en romanties

Die styl is een van my gunstelinge. Dit is sag en romanties en gee net daai iets spesiaal aan ‘n koek. Ek het die koek met fondant gemaak maar dieselfde styl kan met sjokolade of botterversiersel gemaak word, dit hang net af van elke persoon se persoonlike smaak ;)


Sunday 21 July 2013

Die koek was nie speletjies nie

Vir die wat nie weet nie, Angry Birds is 'n speletjie. 'n Rekenaarspeletjie. Wat ek toe ook spesiaal moes aflaai en self bietjie speel, want my bestelling vir 'n verjaardagkoek moes 'n Angry Birds tema hê. En ek moes dus die nodige navorsing doen...

Om die koek te maak was net soveel pret soos die speletjie. Dit was kleurvol en iets anders as die gewone. Ek het die karakters uit die speletjie so getrou moontlik probeer namaak vir die koek. Die voëltjies en varkies bo-op is versierde cake pops. So hulle kon ook geëet word. Alles kon geëet word.










Friday 5 July 2013

Kontakbesonderhede

KoekieKrummel sorg dat jou droomdag ‘n heerlike smakie in die mond laat. Of dit jou troudag, ‘n kombuistee of ooievaarstee is, ‘n kinderpartytjie, verlowingsviering of enige ander funksie, laat KoekieKrummel dit vir jou spesiaal maak.

Kontak my gerus by / Please feel free to contact me at daleenb3@gmail.com

Wednesday 3 July 2013

Wanneer stokmensies sê hulle is lief vir mekaar

Moeg vir daai tradisionele mannetjie en vroutjie wat bo-op troukoeke staan (cake toppers)? Mens kan iets anders doen. Hierdie troukoek is vir die paartjie wat dinge anders wil doen.



Koek van harte

Die simbool van liefde. Van die lewe. En heel waarskynlik die heel eerste ding wat jy as kind geteken het. 'n Hartjie. Ek is mal oor hartjies.




Koek onder konstruksie

Ek het onlangs 'n navraag gekry om te bak vir 'n vrou se sewejarige seun, Johan, se verjaardag. Die man het 'n hele paar tema's oorweeg en eindelik besluit daar moet bulldozer's, lorries en gereedskap wees, want een van sy ooms werk in konstruksie en dit lyk vir hom na net die ding. 'n Konstruksiekoek moes gebou word.

Ek het 'n paar idee's aangestuur en Johan het besluit dit moet lyk asof daar trokke op die koek werk. Die koek was van sjokolade en dit was versier met botterversiersel. Die "grond" wat verskuif word op die konstruksie-area is koekies wat gekrummel is. Die bome is omgedraaide roomyshorinkies met botterversiering op.







Deel van Johan se verjaardagbederf was cake pops wat edelgesteentes was, Rice Crispies-koekies wat rotse was en marshmallows gedoop in geel sjokolade wat verfkwaste was.




'n Verjaardagkoek vir my ma

Ons word almal, of wel meeste van ons, groot met 'n ma wat vir ons koek bak. Ek onthou verjaardagkoeke wat in die vorm van klaviere gekom het, of 'n kasregister met 'n geldlaai wat kon oopskuif. Ek kon selfs die geld eet. Daar was soveel, elke verjaardag nog 'n spesiale een.

Daarom is dit nou fantasties om hierdie guns vir haar te kan doen en haar op haar verjaardag te verras met 'n spesiale koek.

My moeder wil nie te veel dinge op die koek hê nie, nie te veel versiersuiker of soetigheid nie. Vir haar wou ek dus een bak wat eenvoudig lyk, maar ongelooflik proe.
Dit is gewoon 'n klam sjokoladekoek met roomkaasversiersel tussenin en donker sjokolade-ganache bo-oor gedrup. My ma is kleurvol en daarom moes ek darem ietsie inbring om haar ook op 'n manier vas te vang. Dit doen die verskillende kleure sjokoladeblomme bo-op.




Monday 27 May 2013

Die KoekieKrummel fotograaf

Alle foto's op KoekieKrummel word geneem deur die baie talentvolle fotograaf Willem van der Berg. Gaan loer bietjie op sy blog ZA Vryskut en gaan like hom op facebook ZA.